Albert Einstein | |
---|---|
Einstein tydens 'n lesing in Wene in 1921. | |
Gebore | 14 Maart 1879 Ulm, Koninkryk van Württemberg, Duitse Keiserryk |
Sterf | 18 April 1955 |
Nasionaliteit | Koninkryk van Württemberg (1879–1896) Staatloos (1896–1901) Switserland (1901–1955) Oostenryk-Hongarye (1911–1912) Duitse Keiserryk (1914–1918) Republiek van Weimar (1919–1933) Verenigde State (1940–1955) |
Beroep | akademikus, fisikus, uitvinder |
Bekend vir | Algemene relatiwiteit en spesiale relatiwiteit foto-elektriese effek Massa-energie-ekwivalensie Teorie van Brown se beweging veld-vergelykings Bose-Einstein statistiek Bose-Einstein kondensaat Bose-Einstein korrelasies Verenigde veldteorie EPR-paradoks |
Eggenoot | Mileva Marić (1903–1919) Elsa Löwenthal (1919–1936) |
Kinders | "Lieserl" (1902–1903?) Hans Albert (1904–1973) Eduard "Tete" (1910–1965) |
Ouer(s) | Hermann Einstein (vader) Pauline Einstein (moeder) |
Handtekening | |
Albert Einstein FRS (14 Maart 1879 – 18 April 1955) was 'n teoretiese fisikus wat wyd as die grootste wetenskaplike van die 20ste eeu beskou word. Hy het die relatiwiteitsteorie voorgestel en groot bydraes tot die ontwikkeling van kwantummeganika, statistiese meganika en kosmologie gemaak. Hy is in 1921 die Nobelprys vir fisika toegeken vir sy verduideliking van die fotoëlektriese effek en "vir sy diens gelewer aan Teoretiese Fisika".[1]
Na die formulering van sy algemene relatiwiteitsteorie word Einstein wêreldberoemd, 'n ongekende eer vir 'n wetenskaplike. In latere jare het sy beroemdheid bo enige ander wetenskaplike in die geskiedenis uitgestaan, en in omgangstaal is Einstein sinoniem met iemand van baie hoë intelligensie of die grootste genie. Sy gesig is ook een van die mees herkende in die wêreld. In 1999 is Einstein as "Persoon van die Eeu" deur Time Magazine benoem. Hierdie populariteit het ook gelei tot die wye gebruik van Einstein in advertensie en bemarking, en sluit selfs die registrasie van Albert Einstein as 'n handelsmerk in.
'n Eenheid in fotochemie, die einstein, sowel as die chemiese element einsteinium en die asteroïede 2001 Einstein is ter ere na hom vernoem.
Einstein is in 1879 in Ulm in die Koninkryk van Württemberg, Duitsland gebore, sowat 100 km oos van Stuttgart. Sy ouers was Hermann Einstein, 'n veerbedverkoopsman wat later elektrochemiese werke bedryf het en sy vrou Pauline, née Koch. Die familie was Joods (en nie-getrou); Albert woon 'n Katolieke elementêre skool by en neem op aandrang van sy moeder vioollesse.
Toe hy vyf was, wys sy oom vir hom 'n sakkompas en Einstein besef dat iets in die leë lug die naald beïnvloed; hy beskryf die ervaring later as een van die grootste openbarings in sy lewe. Alhoewel hy modelle en meganiese toestelle vir sy eie genot gebou het, is hy as 'n stadige leerder geag, moontlik weens disleksie of eenvoudig menssku wees. Hy het later sy ontwikkeling van die relatiwiteitsteorie aan hierdie "stadig wees" toegeken, en gesê dat hy tyd en ruimte later as die meeste ander kinders kon bepeins, en daarom 'n meer ontwikkelde intellek kon toepas.
Einstein het wiskunde op twaalfjarige ouderdom begin leer. Daar is telkens 'n herhaalde gerug dat hy wiskunde later in sy opvoeding gesak het, maar dit is nie waar nie; 'n verandering in die manier waarop punte toegeken is, het twyfel in latere jare veroorsaak. Twee van sy ooms het sy intellektuele belangstellings gedurende sy latere kinderjare en vroeë tienerjare gevoed deur boeke oor wiskunde en wetenskap voor te stel en te verskaf.
In 1894, ná die mislukking van Hermann se elektrochemiese besigheid, trek die Einsteins van München na Pavia, Italië, naby Milan; Albert bly agter om skool te voltooi (hy het 'n termyn alleen voltooi, en toe by sy familie in Pavia aangesluit).
Sy mislukking in die liberale kunste-gedeelte van die Eidgenössische Technische Hochschule (Federale Switserse Politegniese Universiteit, in Zürich) se toelatingseksamen die volgende jaar was 'n teëslag; hy word deur sy familie gestuur na Aarau, Switserland, om sekondêre skool te voltooi, en ontvang sy diploma in 1896. Einstein skryf daarna in by die Eidgenössische Technische Hochschule. Daardie selfde jaar verwerp hy sy Duitse burgerskap en word staatloos.
In 1898 ontmoet Einstein vir Mileva Marić, 'n Serwiese klasmaat (en vriendin van Nikola Tesla), op wie hy verlief raak. In 1900 word hy sy onderrigdiploma gegun deur die Eidgenössische Technische Hochschule, en word aanvaar as Switserse burger in 1901. Gedurende hierdie tyd bespreek Einstein sy wetenskaplike belangstellings met 'n groep nabye vriende, insluitend Mileva. Hy en Mileva verwek 'n buite-egtelike dogter, Lieserl, wat in Januarie 1902 gebore is.
Ná graduering kon Einstein nie 'n onderrigpos vind nie, meestal weens die feit dat sy astrantheid as 'n jong man blykbaar meeste van sy professors geïrriteer het. Die vader van 'n klasmaat het hom gehelp om 'n pos as tegniese assistent patenteklerk by die Switserse Patentekantoor in 1902 te bekom. Daar het Einstein die waarde van uitvinders se patentaansoeke beoordeel vir ontwerpe wat 'n kennis van fisika benodig het. Hy het ook geleer hoe om die kern van 'n aansoek raak te sien, ten spyte van somtyds slegte beskrywings en was deur die direkteur geleer hoe "om [hom]self korrek uit te druk". Hy het somtyds ontwerpsfoute reggemaak, terwyl hy die uitvoerbaarheid van hul werk oorweeg het.
Einstein trou op 6 Januarie 1903 met Mileva. Einstein se huwelik met Mileva, wat 'n wiskundige was, was beide 'n persoonlike en intellektuele saak: Einstein het liefdevol verwys na Mileva as "'n skepsel wat my gelyke is, en wie so sterk en onafhanklik soos ek is." Abram Joffe, in sy biografie oor Einstein, argumenteer dat Einstein bygestaan was deur Mileva. Hierdie is grootliks teenstrydig met Ronald W. Clark wat in sy biografie aanvoer dat Einstein afhanklik was van die afstand wat in hul huwelik bestaan het, sodat hy die nodige afsondering kon hê om te werk.
Op 14 Mei 1904 word Einsten se seun, Hals Albert Einstein, gebore. In 1904 word Einstein se posisie by die Switserse Patentekantoor permanent gemaak. Hy verkry sy doktoraal ná sy tesis "On a new determination of molecular dimensions" in 1905 voltooi is.
Daardie selfde jaar skryf hy vier artikels wat die grondslag vir moderne fisika sou lê, sonder veel wetenskaplike literatuur om na te verwys of wetenskaplike kollegas om die teorieë mee te kon bespreek. Meeste fisici stem saam dat drie van daardie artikels (Brown-beweging, die fotoëlektriese effek en spesiale relatiwiteit) Nobelpryse verdien het. Slegs die fotoëlektriese effek sou wen; dit is ietwat ironies, aangesien Einstein veel beter bekend is vir relatiwiteit, maar dat die fotoëlektriese effek heeltemal kwantum is en Einstein effe ongelukkig geraak het met die pad wat kwantumteorie sou volg. Wat hierdie artikels laat uitstaan, is dat Einstein in elke geval sonder huiwering 'n idee van teoretiese fisika geneem het tot by die logiese gevolge, en het geslaag daarin om eksperimentele resultate te verduidelik wat wetenskaplikes vir jare verstom het.
Hy dien hierdie artikels in na die "Annalen der Physik". Hulle word algemeen verwys na as die "Annus Mirabilis Papers" (vanuit Latyn: Uitsonderlike Jaar). Die Internasionale Unie van Suiwer en Toegepaste Fisika (IUPAP) het beplan om die 100ste herdenkingsjaar van die publikasie van Einstein se uitgebreide werke in 1905 te herdenk as die World Year Of Physics 2005.
In 1948 dien Einstein op die oorspronklike komitee wat gelei het tot die stigting van die Universiteit van Brandeis. In 1952 stel die Israelse regering voor dat Einstein die pos van tweede president inneem, maar Einstein wys die aanbod van die hand. Op 30 Maart 1953 stel Einstein 'n hersiene verenigde veldteorie bekend.
Hy is in 1955 in Princeton, VSA oorlede en los die Veralgemeende Gravitasieteorie onopgelos. Hy is dieselfde dag, op 18 April 1955, vin Trenton, New Jersey veras. Sy as is op 'n onbekende plek verstrooi. Sy brein is in 'n fles deur Dr. Thomas Stoltz Harvey behou, die patoloog wat die na-doodse ondersoek op Einstein uitgevoer het.
Einstein se religieuse beskouing word oor die algemeen as deïsties gesien: hy het geglo in 'n "God wat Homself ontbloot in die harmonie van alles wat bestaan, nie in 'n God wat Homself bemoei met die noodlot en aksies van mense nie." Einstein wou "weet hoe God die wêreld geskep het"; ná hy deur Martin Buber gedruk is om sy religieuse oortuigings duidelik te maak, het Einstein uitgeroep: "Wat ons (fisici) voor streef is net om Sy lyne soos Hom te trek." Hy het sy geloof as volg opgesom: "My geloof bestaan uit 'n nederige bewondering vir die onnabootsbare Verhewe Gees wat Homself ontbloot in die geringste detail wat ons met ons brose en swak verstand kan waarneem."
Einstein se beskouing oor God en religie is gereflekteer in sy aanhalings, waarvan baie te sien is in Wikiquote.
Einstein het homself as 'n pasifis en medemenslike geag. Hy het eens gesê: "Ek glo Gandhi se beskouing was die mees verligte van alle politieke mense van ons tyd. Ons moet streef om dinge in sy gees te doen: om nie geweld te gebruik om vir ons oortuigings te veg nie, maar deur nie deel te neem aan enigiets wat jy glo 'n euwel is nie." Einstein se beskouing van ander kwessies, insluitend sosialisme, McCarthyisme en rassisme, was kontroversieel. Hy was 'n medestigter van die liberale Duitse Demokratiese Party.
Die Amerikaanse FBI het 'n 1427-bladsy lêer oor sy aktiwiteite aangehou en aangeraai dat hy verhoed word om na die Verenigde State van Amerika te immigreer volgens die "Alien Exclusion Act". Die aantyging was dat Einstein "glo in, adviseer, raai aan of leer 'n doktrine wat, in 'n wetlike sin, soos deur howe in ander gevalle voorgehou is, 'sal toelaat dat anargie ongekeer inkruip' en lei tot 'n 'regering in naam alleen'", onder andere aanklagtes.
Einstein was gekant teen tiranniese vorme van regering en om hierdie rede (tesame met sy Joodse agtergrond) het hy die Nazi-bewind teëgestaan en uit Duitsland gevlug kort ná die instelling daarvan. Hy was eers ten gunste van die bou van die atoombom, om te verseker dat Hitler dit nie eerste doen nie, en het selfs 'n brief aan president Franklin Delano Roosevelt onderteken (gedateer 2 Augustus 1939), voor die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, geskryf deur Leó Szilárd, wat hom aangemoedig het om 'n program te begin om 'n kernwapen te ontwikkel. Roosevelt het geantwoord deur 'n komitee saam te stel wat moes navors of uraan as 'n wapen gebruik kon word, wat 'n paar jaar later deur die Manhattan-projek opgevolg is.
Tog het Einstein na die oorlog homself bearbei vir kernontwapening en 'n wêreldregering.
Albert Einstein was 'n ondersteuner van Sionisme, maar nooit sonder voorbehoud nie. Byvoorbeeld, hy het sterk kritiek gelewer op Menachem Begin en "fascistiese elemente in Israel" in 'n brief in 1948 aan die New York Times. Hy het Joodse vestiging in die antieke setel van Judaïsme voorgestaan, en was aktief in die daarstelling van die Hebreeuse Universiteit van Jerusalem, aan wie hy al sy dokumente en skripsies bemaak het. Hy was wel gekant teen nasionalisme en skepties oor of 'n Joodse nasiestaat die beste oplossing was. Hy mag oorspronklik in gedagte gehad het dat Jode en Arabiere vreedsaam saamleef in dieselfde land. In sy latere lewe het hy 'n aanbod van die hand gewys om die tweede president van die nuutgeskepte staat van Israel te word.
Albert Einstein, tesame met Albert Schweitzer en Bertrand Russell, het geveg teen kerntoetse en -bomme. Met die Pugwash Konferensies oor Wetenskap en Wêreldsake het hy en Bertrand Russell die Russell-Einstein Manifes gepubliseer en verskeie konferensies georganiseer.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Albert Einstein. |
Wikiquote has a collection of quotations related to: Albert Einstein |