Emmanuel Mounier | |
Gebore | Grenoble, Frankryk | 5 Januarie 1905
---|---|
Oorlede | 3 Oktober 1950 (op 45) Châtenay-Malabry, Frankryk |
Nasionaliteit | Frankryk |
Vakgebied | Christen-demokrasie, teologie |
Bekend vir | Personalisme |
Beïnvloed deur | Charles Péguy, Marc Sangnier |
Invloed op | Ngo Dinh Nhu, Abbé Pierre |
Emmanuel Mounier (Grenoble, 12 April 1905 — Châtenay-Malabry, 22 Maart 1950) was 'n Franse filosoof en 'n leidende voorstander van die personalisme.
Mounier bestudeer filosofie in sy geboortestad Grenoble, waarna hy in Parys aan die Sorbonne Universiteit promoveer. Sy mentor aan die universiteit was Jacques Chevalier, wat hom aan die idees van Henri Bergson bekendstel. Hy word ook deur Jacques Maritain en Charles Péguy beïnvloed, oor wie hy met Georges Izard in 1930 La pensée de Charles Péguy publiseer. In die 1930's voorspel Mounier die einde van die beskawing met die opkoms van nazisme en fascisme. Weldra, in 1932, stig hy die tydskrif Esprit met die leuse refaire la Renaissance (Herskep die Renaissance).
In 'n wêreld wat gekonfronteer word met die kapitalisme, individualisme en kollektivisme stel Mounier die personalisme as 'n moontlike alternatief voor. Personalisme ontsluit volgens hom christelike waardes en die sosiale dimensie van menswees. Sy visie verwoord hy in die Manifeste au service du personnalisme (1936) en Le personnalisme (1949). Vir Mounier is die individu, wat hy deur outonomie en isolasie gekenmerk word, die teenoorgestelde van die persoon, wat in verhouding staan tot die gemeenskap en homself/haarself voortdurend ontwikkel.
Van Paul-Louis Landsberg neem hy die konsep van die idee van betrokkenheid oor. Hierin lê vir hom die basis vir aktief standpunt inneem oor tasbare vraagstukke. Die pedagogiese oomblik in sy filosofie bring hy in verband met die stryd vir 'n demokratiese samelewing. So veroordeel Mounier die Europese nasionaalsosialiste en fasciste in 1934, pleit hy vir 'n Volksfront in 1936, teen die pasifistiesepolitieke benadering tot Adolf Hitler in München in 1938 en vir die republikeine in die Spaanse Burgeroorlog in 1939. Met sy politieke betrokkenheid skaar Mounier hom aan die kant van die eksistensialiste en marxiste.
In 1940 is Mounier van mening dat Europa vir 'n lang tydperk deur die totalitarisme oorheers sal word. Die tydskrif Esprit is aan sensuur onderwerp en word deur die Vichy-regering in 1941 verbied. In Januarie 1942 word hy onder verdenking van deelname aan die verset gearresteer en begin met mede-gevangenisse 'n hongerstaking. Na sy vrylating in die herfs van dieselfde jaar gaan hy ondergronds.
Na die bevryding neem Mounier die besluit om weer Esprit uit te gee. Hy is gekant teen kolonialisme (en later die oorlog in Algerië), teen die kommunisme in Midde- en Oos-Europa (veral na aanleiding van die staatsgreep in Praag in 1948) en beskou die Frans-Duitse versoening en die Europese eenwording as plig en ideaal vir die huidige en toekomstige generasies.
• Nicolas Berdaief, La Revolution de l'Esprit, Albin Michel, 1995
• Jean Marie Domenach, Emmanuel Mounier, Paris, Le Seuil, 1972
• Jean-Louis Loubet del Bayle, les Non-conformistes des années 1930. Une tentative de renouvellement de la pensée politique française, Paris, Le Seuil, 1969, 2de druk 1987.
Vertaal uit die Nederlandse Wikipedia Artikel.