Tomas Tranströmer | |
---|---|
Tomas Tranströmer tydens die Internasionale Konferensie van Skrywers en Literêre Vertalers, in Junie 2008 | |
Gebore | Tomas Gösta Tranströmer 15 April 1931 Stockholm, Swede |
Sterf | 26 Maart 2015 (op 83) Stockholm, Swede |
Nasionaliteit | Sweeds |
Alma mater | Universiteit van Stockholm |
Beroep | digter, sielkundige |
Eggenoot | Monika Bladh |
Tomas Gösta Tranströmer (15 April 1931 – 26 Maart 2015) was 'n Sweedse digter, sielkundige en vertaler.[1] Sy gedigte vang die uitgerekte Sweedse winters, die ritme van die seisoene, en die tasbare, atmosferiese prag van die natuur vas. Tranströmer se werk word ook gekenmerk deur die aanwesigheid van die geheimsinnigheid en wonder wat die alledaagse roetine van die lewe onderlê, 'n kenmerk wat dikwels 'n godsdienstige karakter aan sy gedigte verleen.[2] Hy is al beskryf as 'n Christelike digter.[3]
Tranströmer is geprys as een van die belangrikste Skandinawiese skrywers sedert die Tweede Wêreldoorlog. Kritici het sy poësie geprys vir die toeganklikheid daarvan, selfs in vertaling. Sy poësie is al vertaal in meer as 60 tale. Hy was die ontvanger van die 1990 Neustadt Internasionale Literatuurprys, die 2004 Internasionale Nonino-prys en die 2011 Nobelprys vir Letterkunde.[4]
Tranströmer is in 1931 in Stockholm gebore. Hy is grootgemaak deur sy moeder Helmy ('n onderwyseres), na haar egskeiding van sy vader Gösta Tranströmer, 'n redakteur.[4][5] Hy ontvang sy sekondêre skoolopleiding aan die Södra Latin Gimnasium in Stockholm, waar hy poësie begin skryf. Sy eerste bundel gedigte, 17 dikter, is in 1954 gepubliseer. Hy het sy opleiding voortgesit aan die Universiteit van Stockholm, en verwerf sy graad in sielkunde in 1956, met bykomende studies in geskiedenis, godsdiens en letterkunde. [6] Tussen 1960 en 1966 werk Tranströmer as sielkundige by die Roxtuna sentrum vir jeugmisdadigers, terwyl hy ook poësie skryf.[4] Hy het ook vanaf 1965 tot 1990 as sielkundige gewerk by die Arbeidsmarkinstituut in Västerås.[7]
Tranströmer word beskou as een van die "mees invloedryke Skandinawiese digter(s) van onlangse dekades".[4] Tranströmer het deur die loop van sy loopbaan 15 bundels gepubliseer wat in meer as 60 tale vertaal is.[4] 'n Engelse vertaling deur Robin Fulton van sy gehele oeuvre, New Collected Poems, is in 1987 in die Verenigde Koninkryk gepubliseer en in 1997 uitgebrei. Na die publikasie van Den stora gåtan was Fulton se werk verder uitgebrei na The Great Enigma: New Collected Poems, wat in 2006 in die VSA, en in 2011 as 'n opgedateerde uitgawe van New Collected Poems[8] in die Verenigde Koninkryk, gepubliseer is. In 1993 het Tranströmer 'n bondige outobiografie getiteld Minnena ser mig gepubliseer.
Teen die middel-1960's het Tranströmer hegte vriende geword met die digter Robert Bly. Die twee het gereeld gekorrespondeer, en Bly sou weldra Tranströmer se gedigte in Engels vertaal. In 2001 het Bonniers, Tranströmer se uitgewer, Air Mail vrygestel, 'n werk wat bestaan uit Tranströmer en Bly se daaglikse korrespondensie oor persoonlike, eietydse en literêre aangeleenthede vanaf 1965 tot 1991 – in 'n styl wat duidelik aantoon watter hegte vriende die twee binne 'n betreklik kort tydperk geword het.[4] Bly het ook gehelp om voorlesings vir sy mededigter in Amerika te reël. Die Siriese digter Adunis het gehelp om Tranströmer se bekendheid in die Arabiese wêreld te versprei, en hom op leestoere vergesel.[9]
In die 1970's het ander digters Tranströmer daarvan beskuldig dat hy ontheemd is van sy eie era, aangesien hy nie openlik met sosiale en politieke kwessies in sy gedigte en romans omgaan nie. Sy werk lê egter duidelik binne en is 'n ontwikkeling op die Modernistiese en Ekspressionistiese/Surrealistiese taal van 20ste-eeuse poësie; sy duidelike, oënskynlik eenvoudige beelde uit die alledaagse lewe en veral die natuur openbaar 'n mistieke insig in universele aspekte van die menslike verstand. Een van sy gedigte is in 2003 tydens Anna Lindh se gedenkdiens voorgelees.
Tranströmer het onmiddellik na die Bhopal-gastragedie van 1984 daarheen gereis en saam met Indiese digters soos K. Satchidanandan deelgeneem aan 'n voorlesiing van gedigte buite die gasaanleg.[10]
Tranströmer het in 1990 'n beroerte opgedoen wat hom gedeeltelik verlam gelaat het en sy spraakvermoë aangetas het; hy het egter deur die vroeë 2000's voortgegaan om gedigte te skryf en te publiseer. Een van sy laaste digbundels, Den stora gåtan, is in 2004 gepubliseer.
Tranströmer het op 26 Maart 2015 in Stockholm gesterf, minder as drie weke voor sy 84ste verjaardag.[11]
Ander toekennings sluit die Övralid-prys en die Sweedse toekenning van die Internasionale Forum vir Poësie in.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Tomas Tranströmer. |
Wikiquote het aanhalings in verband met Tomas Tranströmer |