Die jaar 1961 was 'n gewone jaar wat volgens die Gregoriaanse kalender op 'n Sondag begin het. Dit was die 61ste jaar van die 20ste eeu n.C. Soos ander gewone jare het die jaar 12 maande, 52 weke en 365 dae gehad.
Die jaar was die eerste "onderstebo" jaar – met ander woorde, 'n jaartal wat dieselfde lyk wanneer dit omgedraai en bekyk word, as wanneer dit regop staan – sedert 1881, en is die laaste jaar wat só lyk tot die jaar 6009!
3 Januarie – SL-1, 'n atoomreaktor, ontplof by die National Reactor Testing Station in Idaho Falls, Idaho, en drie militêre tegnici sterf daarin.
7 Januarie – Ná 'n vierdaagse konferensie in Casablanca, kondig vyf Afrika-staatshoofde hul plan aan om 'n NATO-agtige Afrika-organisasie te stig om sodoende saam hulself te kan verdedig. Die Handves van Casablanca word geskryf deur Marokko, die Verenigde Arabiese Republiek, Ghana, Guinee, en Mali.
25 Januarie – In Washington, DC lewer John F. Kennedy die eerste lewende uitsending van 'n presidensiële nuuskonferensie
25 Januarie – Om "linkse uitspattigheid" te beëindig, pleeg 'n junta wat uit twee weermagsoffisiere en vier burgerlikes bestaan, 'n staatsgreep in El Salvador, en skop só 'n ander junta uit wat slegs drie maande lank regeer het.
26 Januarie – John F. Kennedy stel Janet G. Travell aan om sy persoonlike arts te wees. Dit is die eerste keer dat 'n vrou hierdie posisie beklee.
15 Februarie – 'n Boeing 707-vliegtuig stort neer in België. Drie-en-sewentig mense sterf, onder andere al die lede van die Verenigde State se ysskaatsspan en 'n hele paar van hul afrigters.
29 Maart – Regter F.L. Rumpff bevind die dertig beskuldiges (onder wie Nelson Mandela en Walter Sisulu) van die ANC in die Hoogverraadsaak van 1956 onskuldig.
12 April – Joeri Gagarin word die eerste persoon om om die aarde te wentel. Hy is gelanseer in die Vostok 1, wat binne een uur en 48 minute een keer rondom die aarde vlieg.