Straatsburg

Straatsburg

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Frankryk Frankryk
 Administratiewe gewes Grand Est
 Département Bas-Rhin
 Koördinate 48°35′N 7°45′O / 48.583°N 7.750°O / 48.583; 7.750
 Stigting 12 v.C. (Argentoratum)
 Oppervlakte:  
 - Totaal 78,26 vk km
 Hoogte bo seevlak 132–151 m
 Bevolking:  
 - Totaal (1 Januarie 2019) 287 228
 - Bevolkingsdigtheid 3 700/vk km
 - Metropolitaanse gebied 790 087
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Burgemeester Jeanne Barseghian (EELV)
 Amptelike webwerf strasbourg.eu

Straatsburg (Frans: Strasbourg [stʁasbuʁ], ; Elsassiese Duits (Alemannies): Strossburi [ˈʃd̥ʁɔːsb̥uʁi], ; Duits: Straßburg, [ˈʃtʁaːsbʊʁk], ) is die hoofstad van die gewes (région) Grand Est in die noordooste van Frankryk, met 'n bevolking van 287 228 in die stad (soos op 1 Januarie 2019) en sowat 790 087 in die metropolitaanse gebied. Die stad is ook die hoofstad van die département Bas-Rhin. Straatsburg lê teen die Illrivier, die Ryn-Rhône- en die Ryn-Marne-kanaal en beskik oor 'n rivierhawe. Die stad is 'n sentrum van die motor-, voedsel-, tekstiel- en masjienbounywerhede.

Straatsburg is die setel van die Europese Raad en die Europese Geregshof van Menseregte. Saam met die Belgiese hoofstad Brussel fungeer dit ook as die setel van die Europese Parlement.

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Tot in die vyfde eeu n.C. is na die stad verwys as Argantorati (in die nominatiewe naamval, Argantorate in die lokatiewe naamval), 'n Kelties-Galliese naam wat eers gelatiniseerd is as Argentorate (met 'n Galliese lokatiewe einde, soos dit in die eerste eeu op Romeinse mylpale verskyn het) en toe as Argentoratum (met 'n reëlmatige Latynse nominatiewe einde in latere Latynse tekste). Dié Galliese naam is 'n samestelling van -rati, die Galliese woord vir versterkte kampe, verwant aan die Oudierse ráth (vergelyk ringfort) en arganto(n)- (verwant aan die Latynse argentum, waarvan die Franse woord argent ontleen is), die Galliese woord vir silwer, maar ook enige edelmetaal, veral goud, wat verwys na óf 'n versterkte omheining by 'n riviergoudmynterrein óf opgegaarde goud wat in die nabygeleë riviere ontgin is.[1]

Ná die vyfde eeu het die stad onder 'n heel ander naam bekend geword, later verfrans as Strasbourg (Elsassiese Duits: Strossburi; Duits: Straßburg). Dié naam is van 'n Germaanse oorsprong en beteken "stad" (by die kruising) van strate". Die moderne Stras- is verwant aan die Duitse woord Straße en Afrikaans "straat", albei ontleen aan Latyn strata ("geplaveide pad"), terwyl -bourg verwant is aan die Duitse Burg en Afrikaanse "buurt", albei ontleen aan die Proto-Germaanse *burgz ("heuwelvesting", "vesting").

Gregorius van Tours was die eerste wat na die naamverandering verwys het: in die tiende boek van sy "Geskiedenis van die Franke", kort ná 590 geskryf, het hy gesê dat Egidius, biskop van Reims, daarvan beskuldig is dat hy in 'n sameswering saamgespan het teen Childebert II van Austrasië ten gunste van sy oom, koning Chilperik I van Neustrië, in November 590 deur ’n sinode van Austrasiese biskoppe in Metz verhoor, skuldig bevind en van die priesteramp verwyder en toe geneem is ad Argentoratensem urbem, quam nunc Strateburgum vocant ("na die stad Argentoratum, wat hulle nou Strateburgus" noem), waar hy verban is.[2]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]
Oordekte brûe in La Petite France
Place de la Cathédrale
Looiersbuurt in Petite France, Straatsburg
Die hoofkwartier van die tweetalige Duits-Franse televisiekanaal ARTE aan die oewer van die Illrivier. ARTE fokus op kulturele, inligtings-, dokumentêre en vermaakprogramme van hoë gehalte

Straatsburg is tydens die heerskappy van die Romeinse keiser Augustus Octavianus in 12 v.C. as Argentoratum ("Stad by die Rivier") gestig. Aanvanklik was dit 'n militêre kamp van die Agte Legioen naby die Romeins-Germaanse grens (limes), wat in dié gebied deur die Ryn gevorm is; tog het mettertyd aan die westelike kant van die kamp 'n siviele nedersetting (canabae) begin groei. Ingevolge die uitbreiding van die Romeinse Ryk is die grens na die ooste verskuif, en Argentoratum het as 'n belangrike binnelandse hawestad teen die Ryn gedien. Sedert die 4de eeu n.C. was die stad 'n biskopsetel. Die Hunne het die stad in 451 beset en verwoes.

In 496 is die stad by die Frankiese Ryk ingelyf. In die 6de eeu het groepe Alemanne hulle in die gebied gevestig, wat gou gegermaniseer is. Die stad het die Germaanse naam Straatsburg gekry (wat in dokumente in sy gelatiniseerde vorm Strateburgum gebruik word, "Die Vesting by die Straat"). In die jaar 842 is die Straatsburgse Ede in die stad afgelê, wat as die oudste teks in die Franse taal en as die eerste dokument, wat van die verdeling van die Frankiese Ryk in 'n Frans- en Duitstalige gebied getuig, beskou word. Met die Verdrag van Mersen het Straatsburg in 870 'n Oos-Frankiese besitting geword. Tussen 982 en 1262 het die biskoppe daarin geslaag om die stad uit die hertogdom te los en onder die heerskappy van die bisdom te bring. In die jaar 1015 is 'n basiliek in die Romaanse boustyl opgerig.

In die Middeleeue het Straatsburg tot 'n belangrike ekonomiese sentrum gegroei en in 1262 'n Vrye Ryksstad geword. Hoogaangeskrewe geleerdes het die goeie naam van die stad as 'n Europese sentrum van die mistiek en later van die humanisme gevestig. Die katedraal van Straatsburg, wat in 1439 voltooi is, het tot en met 1874 met sy toring van 142 meter as die hoogste gebou ter wêreld bekend gestaan. Sedert 1482 was die politieke bedeling van die stad volgens stande georganiseer.

In die 16de eeu het Straatsburg sy bloeitydperk as Vrye Ryksstad beleef. Tydens die Protestantse Hervorming het Straatsburg die Lutheraanse kant gekies, die stad het hom egter op die Ryksdag van Augsburg nie by die Protestantse Confessio Augustana aangesluit nie, maar verkies om saam met die stede Memmingen, Konstanz en Lindau 'n eie belydenis af te lê, die sogenaamde Tetrapolitana, wat deur Martin Bucer en Capito opgestel is.

In 1605 het die Straatsburgse drukker en boekhandelaar Johann Carolus begin om gedrukte uitgawes van sy tot dusver handgeskrewe nuusversamelings uit te gee. Die nuusblad, wat onder die titel Relation verskyn het, word in die perswetenskap as die eerste gedrukte koerant ter wêreld beskou.

Vanaf 1648 was die Franse konings die beskermhere van die Elsassiese Ryksstede. Franse troepe het die stad in September 1681 beset en in 1697 is Straatsburg volgens die Vredesooreenkoms van Ryswyk vir goed by Frankryk ingelyf. Alhoewel die stad, sy taal en sy kultuur nog Duits gebly het, is Protestante van loopbane in die staatsdiens uitgesluit en die katedraal weer as 'n Rooms-Katolieke Kerk gebruik.

In 1770 en 1771 het die bekendste Duitse digter, Johann Wolfgang von Goethe, aan die Universiteit van Straatsburg gestudeer. Die stad was in dié tydperk een van die sentrums van die literêre beweging Sturm und Drang, en digters soos Jakob Michael Reinhold Lenz en Johann Gottfried von Herder het hier gewoon. In die tyd van die Franse Rewolusie het Claude-Joseph Rouget de l'Isle op 25 April 1792, tydens 'n dinee wat deur die burgemeester Frédéric de Dietrich georganiseer is, die nuwe Franse volkslied Marseillaise in Straatsburg gekomponeer. Die stad was later ook 'n toevlugsoord vir Duitse rewolusionêres soos die digter Georg Büchner.

Met die industrialisering in die 19de eeu het die bevolkingstal tot 150 000 inwoners verdriedubbel. Na die Franko-Pruisiese Oorlog van 1870 en 1871 moes Frankryk die gebied Elsas-Lotaringe aan die nuut gestigte Duitse Keiserryk afstaan. Straatsburg was sedert 1870 deur Pruisiese troepe beset. Later het dit die hoofstad van die gewes geword, wat net 'n laer status as "Reichsland" (Ryksland) toegestaan is.

Naas Metz en Keulen is Straatsburg ná 1871 as een van die belangrikste Duitse vestings in die weste versterk, terwyl in die omgewing forte op strategiese plekke gebou is.

As gevolg van die Eerste Wêreldoorlog is Duitsland gedwing om die stad in die Vredesoorkoms van Versailles van 1919 weer aan Frankryk af te staan. In ooreenstemming met die 14 voorstelle wat deur die Amerikaanse president Woodrow Wilson voorgelê is, het in Elsas-Lotaringe geen referendum plaasgevind nie. Die stad was in dié tyd nog oorwegend Duitstalig, en daar was ook soldate uit Elsas wat in die oorlog lojaal aan Duitsland was. Dit was een van die gasheerstede tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1938.

In die tyd tussen die Duitse Inval van Pole op 1 September 1939 en die Franko-Britse oorlogsverklaring teen die Duitse Ryk op 3 September 1939 is die stad soos ander grensstede en -dorpe ontruim. Behalwe vir die soldate in die kaserne het Straatsburg tien maande lank 'n leë stad gebly. In Junie 1940 het Duitse troepe Straatsburg beset, tot by sy bevryding deur Franse troepe onder die bevel van generaal Lattre de Tassigny in 1944.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het die burgemeester Pierre Pflimlin hom tot versoening met Duitsland verbind, en Straatsburg het 'n simbool vir die vriendskapsbande tussen die twee lande en die Europese samewerking geword. Sedert 1948 is Straatsburg die setel van die Europese Raad.

Klimaat

[wysig | wysig bron]
Satellietbeeld van Straatsburg
Weergegewens vir Straatsburg (1981–2010)
Maand Jan Feb Mar Apr Mei Jun Jul Aug Sep Okt Nov Des Jaar
Hoogste maksimum (°C) 17,5 21,1 25,7 30,0 33,4 37,0 37,4 38,5 33,4 29,1 22,1 18,3 38,5
Gemiddelde maksimum (°C) 4,5 6,4 11,4 15,7 20,2 23,4 25,7 25,4 21,0 15,3 8,8 5,2 15,3
Gemiddelde temperatuur (°C) 1,8 2,9 7 10,5 15 18,1 20,1 19,8 15,8 11,2 5,8 2,8 11
Gemiddelde minimum (°C) −0,8 −0,6 2,5 5,2 9,8 12,8 14,5 14,1 10,6 7,1 2,8 0,3 6,6
Laagste minimum (°C) −23,6 −22,3 −16,7 −5,6 −2,4 1,1 4,9 4,8 −1,3 −7,6 −10,8 −23,4 −23,6
Neerslag (mm) 32,2 34,5 42,8 45,9 81,9 71,6 72,7 61,4 63,5 61,5 47,0 50,0 665,0
Sonskynure (u/d) 1,9 3 4,3 6 6,5 7,5 7,4 7,1 5,5 3,2 1,8 1,4 4,6
Reëndae (d) 8,4 8,1 9,1 9,2 11,5 10,7 10,8 9,9 8,6 9,5 9,3 9,8 114,9
Humiditeit (%) 86 82 76 72 73 74 72 76 80 85 86 86 79
Bron: Météo-France,[3] Infoclimat.fr[4]

Besienswaardighede en argitektuur

[wysig | wysig bron]
Die wesfasade van die katedraal Notre-Dame de Strasbourg

Die geskiedkundige stadskern ’grande île' tussen die twee arms van die kronkelende Illrivier, 'n takrivier van die Ryn, het bewaar gebly en word in 1988 deur Unesco tot wêrelderfenisgebied verklaar. Die romaans-gotiese katedraal Notre-Dame van Straatsburg, wat in die tydperk tussen 1176 en 1439 opgerig en in 1547 van sy beroemde astronomiese horlosie voorsien word, is die bekendste baken van die stad, en die plein voor die katedraal is een van die mooiste in Europa. Hy word oorheers deur die wesfasade van die katedraal en is omring deur talle vakwerkhuise in die Alemannies-Suid-Duitse boustyl met soms vier tot vyf verdiepings. Kenmerkend is die steil dakke wat nog eens vier tot vyf verdiepings huisves. Die bekende Haus Kammerzell met sy ryk versierings staan aan die noordelike kant van die plein.

Langs die oewer van die Ill en sy talle kanale lê die sogenaamde Looiersbuurt (Duits: Gerberviertel, Frans: La Petite France) met sy bekoorlike vakwerkboustyl, dakkapelle en klein straatjies.

Die Temple neuf in die historiese stadskern is in 1908 as die grootste Protestantse kerk in Frankryk opgerig. Ander bekende geboue uit die Duitse keisertydperk is die stasie en universiteit van Straatsburg. In 2017 is die Neustadt wat tydens die Duitse Keiserryk opgerig is, as wêrelderfenisgebied gelys en Straatsburg se inskrywing uitgebrei.[5]

Die Synagogue de la Paix (Vredesinagoge) vervang in 1958 die ou sinagoge wat verwoes is.

Straatsburg: Die Illrivier

Hoofstad van Europa

[wysig | wysig bron]
Vergadersaal van die Europese Parlement in Straatsburg

Die idee om van Straatsburg die hoofstad van Europa te maak gaan oorspronklik terug op Winston Churchill. Danksy die tweetalige en bikulturele geskiedenis is Straatsburg uiters geskik om as een van die Europese hoofstede te dien. Dit is die setel van die Europese Raad, die Europese Parlement (saam met Brussel) en die Europese Geregshof van Menseregte, wat soms ook net die "Straatsburgse Hof" genoem word. Die Europese Parlement beywer hom om 'n einde te maak aan die tweeledige stelsel van parlementêre geboue in sowel Brussel asook Straatsburg, maar dit is vir die Europese regerings om te besluit.

Straatsburg huisves ook 'n aantal Europese organisasies soos die hoofkommando van Eurocorps, die rekenaarsentrum van die Europese polisie Europol, die Sentrale Kommissie van die Skeepvaart op die Ryn en die Europese Register van Artsenymiddels. Daarnaas is dit ook die hoofkwartier van die tweetalige Duits-Franse kulturele televisiekanaal ARTE.

Frankryk en Duitsland is tans ook besig met onderhandelinge oor die stigting van 'n Europese distrik, wat die metropolitaanse gebied van Straatsburg en die Duitse distrik Oretenau oorkant die Ryn sal insluit, met 'n gesamentlike bevolking van 860 000.

Museums

[wysig | wysig bron]
Die Musée des Beaux-Arts in die Barokgebou Palais Rohan
  • Die Musée des Beaux-Arts (Museum van Skone Kunste) vertoon skilderye van ou meesters, maar ook van Gustav Klimt.
  • Die Musée d'Alsace behandel die volkskuns en handwerk van Elsas.
  • Die Musée de l'Art moderne et contemporaine (Museum van Moderne en Hedendaagse Kuns) met sy kenmerkende perdestandbeeld wat op sy dak staan, is een van die bekendste museums van sy soort in Europa.
  • Die Centre Tomi Ungerer behandel die tekenkuns en grafiese werk van die internasionaal bekende kunstenaar uit Elsas. Speelgoed, foto's en die familieargief is deel van die tentoonstelling.
  • Le Vaisseau (Die Skip), wat in 2005 geopen is, dien as 'n sentrum vir wetenskap en tegnologie vir kinders en jeugdiges tussen drie en vyftien jaar oud.

Kuns en kultuur

[wysig | wysig bron]
  • Die Opéra national du Rhin beskik oor sy eie ballet en orkes, die Orchestre Philharmonique de Strasbourg.
  • Die Théâtre de la Choucrouterie is die kabaret van Roger Siffer, wat sedert 1984 in die gebou van 'n ou suurkoolfabriek bestaan. Die revues word in twee sale in Frans en Elsassies aangebied.

Tersiêre onderwys en biblioteke

[wysig | wysig bron]
'n Brug vir voetgangers, die Passerelle Mimram, verbind Straatsburg sedert 2004 met Kehl (Duitsland) anderkant die Ryn

Die Universiteit van Straatsburg is ook die setel van die Franse Nasionale Skool vir Administrasie (École nationale d'administration). Die universiteit se wortels gaan terug na die jaar 1538, toe Jacques Sturm die Protestantse gimnasium stig. In 1556 kry dit die status van 'n akademie, 1621 dié van 'n universiteit en in 1631 word dit 'n koninklike universiteit. Tydens die Franse Rewolusie word die instelling gesluit en heropen eers in 1870. In 1918 word Frans in plaas van Duits weer as voertaal gebruik. Tydens die Tweede Wêreldoorlog word die universiteit na Clermont-Ferrand verskuif (tot 1945).

Saam met die universiteite van Karlsruhe (Duitsland), Basel (Switserland), Mulhouse (Frankryk) en Freiburg im Breisgau (Duitsland) is die Universiteit van Straatsburg vandag 'n lid van die Europese Konfederasie van Universiteite teen die Opper-Ryn. Dit beskik weens die besondere godsdienstige statuut van Elsas oor twee godsdienstige fakulteite (Rooms-Katoliek en Protestants), wat deur die staat gesubsidieer word. Sedert die sewentigerjare is die universiteit verdeel in drie instellings: Université Louis Pasteur (Strasbourg I), Université Marc Bloch (Strasbourg II) en Université Robert Schuman (Strasbourg III).

Die grootste openbare biblioteke in Straatsburg is die Bibliothèque Nationale et Universitaire en die Bibliothèque Municipale (Stedelike Biblioteek).

Vervoer

[wysig | wysig bron]

Spoorweë

[wysig | wysig bron]
Moderne tremlyn in Straatsburg
Moderne treine verbind Straatsburg met die Duitse stad Offenburg

Straatsburg is 'n belangrike vervoersentrum van die nasionale Franse spoorwegmaatskappy SNCF, waar ook Duitsland se nasionale en plaaslike spoorweë soos Deutsche Bahn en Ortenau-S-Bahn aandoen. Die sogenaamde Europabahn-spoorweg verbind Straatsburg via Offenburg met 'n groot aantal Duitse bestemmings. EuroCity-treine ry op die roetes Parys-Straatsburg-München-Wene en Zürich-Basel-Straatsburg-Luxemburg-Brussel. Tans bestaan daar nog geen Franse TGV-verbindings na Duitsland of Duitse ICE-verbindings na Frankryk nie. Internasionale hoëspoed-treinverbindings (TGV Est Européen) sal egter in die somer van 2007 op die roetes Parys-Straatsburg-Kehl-Karlsruhe en -Stuttgart en Straatsburg-Basel-Zürich ingestel word.

Straatsburg is ook die knooppunt vir Elsas se treinstelsel Metralsace; sneltreine op hierdie lyne bereik 'n maksimum-snelheid van tot by 200 kilometer per uur.

Padverkeer

[wysig | wysig bron]

Straatsburg is die beginpunt van die nasionale Franse snelweg A4 in rigting van Metz en Parys. Daar is tans nog geen snelwegverbinding na die Duitse stad Kehl oorkant die grens nie.

Openbare vervoer

[wysig | wysig bron]

Straatsburg beskik naas talle busdienste oor 6 tremlyne met ultramoderne waens, wat lankal 'n toeriste-attraksie geword het. Op 29 April 2017 is die lyne tot by Kehl verleng.[6]

Fietsryers

[wysig | wysig bron]

Die geriewe vir fietsryers is in die laaste jare aansienlik uitgebou, en Straatsburg beskik nou oor een van Frankryk se grootste fietspadstelsels met talle stasies, waar fietse teen 'n lae bedrag verhuur word.

Lugvervoer

[wysig | wysig bron]

Straatsburg se internasionale lughawe in Entzheim, sowat twintig kilometer suidwes van die stad, is met jaarliks meer as twee miljoen passasiers die sewende grootste in Frankryk.

Waterweë

[wysig | wysig bron]
'n Bateau-omnibus op die Illrivier

Straatsburg is an die oewer van die Illrivier gestig en danksy die uitgestrekte netwerk van waterweë het watervervoer steeds 'n groot rol in die plaaslike ekonomie gespeel. Die stad beskik oor belangrike hawegeriewe aan die Ryn, die belangrikste waterweg in Europa en die wêreld.

Die setel van die Commission Centrale pour la Navigation du Rhin, 'n internasionale instelling wat die watervervoer op die Ryn koördineer en beheer, het sy setel reeds in 1920 van die Duitse stad Mannheim na Straatsburg verskuif. Die ou keiserlike paleis, wat hernoem is tot Palais du Rhin ("Rynpaleis"), dien as sy kantoorgebou.

Die waterweë bevorder ook die plaaslike riviertoerisme, en die sogenaamde bateaux-omnibus ("bus-bote") vervoer jaarliks meer as 650 000 besoekers op hulle rondvaarte. Straatsburg het met die Marne-Ryn-kanaal lankal 'n sentrum van die riviertoerisme geword en huisves die grootste Europese redery in dié bedryf, CroisiEurope.

Susterstede

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (fr) Jean-Marie Pailler (2006). "Quand l'argent était d'or. Paroles de Gaulois" (PDF). Gallia. CNRS. 63: 211–241. doi:10.3406/galia.2006.3296. S2CID 194088001. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2022. Besoek op 9 Oktober 2022.
  2. (en) Gregorius van Tours (1849). Historia Francorum. Vol. 10de boek, hoofdeel XIX. p. 553. Besoek op 7 Maart 2017.
  3. (fr) "Données climatiques de la station de Strasbourg". Météo-France. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Maart 2019. Besoek op 20 Junie 2015.
  4. (fr) "Normes et records 1961–1990: Strasbourg-Entzheim (67) – altitude 150 m". Infoclimat. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Maart 2019. Besoek op 20 Junie 2015.
  5. (de) "Architektur der Gründerzeit". Badische Zeitung. 10 Julie 2017. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 14 Julie 2017.
  6. (de) "Fahrplan Tram D" (PDF). cts-strasbourg.fr. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 4 Augustus 2017. Besoek op 14 Julie 2017.
  7. 7,0 7,1 7,2 7,3 7,4 (en) "Strasbourg, Twin City". Straatsburg. Besoek op 16 Mei 2024.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]